|
|
Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu vertel dié grappie oor homself: “Daar word vertel dat ek – op my sterfdag – tot my teleurstelling moet uitvind dat daar nie vir my plek in die hemel is nie. Ek moet toe maar aanstap na die warmer plek. ’n Paar dae later hamer die duiwel aan die hemel se poorte. Toe Petrus navraag doen, sê die duiwel hy soek ‘politieke asiel’, want hy kan dit nie uithou met my en al die moeilikheid wat ek maak nie.” En wha-ha-haa-haaa lag “Die Arch” sy bekende kraailaggie met sy oë styf toegeknyp. Hy is inderdaad bekend as ’n “moeilikheidmaker” wat nie skroom om sy stem hard en duidelik oor enigiets – van korrupsie tot die Springboktrui – te laat hoor nie. En hy gee ook nie om wie hy in die proses ontstel nie. Vreesloos. Hardkoppig. En so deel van Suid-Afrika se lief en leed soos melktert by ’n boere-tee. Toe hy onlangs aankondig dat hy binnekort uit die openbare oog gaan verdwyn om “saam met sy vrou, Leah, in die son te sit en rooibostee te drink”, het ’n mens hom dit van ganser harte gegun. Maar hy vertrek nie suutjies nie. Nee, eers is daar nog die “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders”-projek wat sy steun ontvang (bl 22-25). |
Só praat hy nóg ’n keer oor God se liefde vir elke mens – hierdie keer vir die kinders van ons land en ook wêreldwyd. Hy noem dit die “wonderlikste projek in die wêreld om die boodskap van God se liefde na al ons kinders uit te dra. Hierdie liefde sal die wêreld waarin ons leef, verander.” Die Bybel waarna “Die Arch” verwys, is God se kinders met bekende Bybelverhale soos deur hom oorvertel. Dié Kinderbybel verskyn in 13 tale – waaronder Afrikaans, Engels en vier van ons swart tale. Met God se kinders plant Desmond Tutu ’n boom waarvan die vrugte ons land en sy mense kan verander. Groete tot 13 September wanneer die Oktober-uitgawe van LIG te koop is. Adri-Louise Omdat ons baie graag wil weet hoe jy oor LIG dink en ons graag vir jou ’n tydskrif wil gee wat aan jou behoeftes voldoen, nooi ons jou om die LIG-vraelys op bl 62-63 in te vul. Indien jy jou voltooide vraelys teen 25 September 2010 aan ons besorg, staan jy ’n kans om R2 000 of gratis intekening op LIG te wen. |