Wie het al ooit van die filosoof Hypatia gehoor? Nóg minder mense mag iets van die doen en late van die charismatiese kryger, Ammonius, in Alexandrië in die jaar 391 na Christus weet. Die kanse is ook goed dat niemand nog ooit gehoor het van die sensitiewe en intelligente slaaf, Davis, nie. Hy was verlief op sy meesteres Hypatia, maar sy liefde het onbeantwoord gebly. Wat sake nog verder gekompliseer het, was dat Hypatia die dogter was van Theon, die hoof van die grootste biblioteek in die destydse wêreld. As filosoof is Hypatia ongekende intellektuele vryheid toegelaat. Hierdie intense en taamlike lang drama handel oor ’n tyd toe mense gruwelike wandade in die naam van godsdiens gepleeg het. Dikwels in (oor)reaksie teen die Romeinse onderdrukking in Alexandrië in die tyd ná Christus se kruisiging, maar ook as gevolg van die wyse waarop mense hulle mag misbruik het voordat die Romeinse Ryk uiteindelik ineengestort het. In hierdie gevaarlike tyd bevind Hypatia haar in haar pa se weergalose biblioteek. Dit was vol filosofieë, geskrifte en uitvindsels – ’n waardevolle verslag van die mensdom se geskiedenis tot op daardie stadium. Sy het daagliks saam met haar studente oor die aard van die heelal gefilosofeer, oor die pad wat die aarde om die son volg en oor die betekenis van sirkels as ’n volmaakte vorm. Wat haar veral interesseer is die vorming van die seisoene – as die aarde in ’n volmaakte sirkel om die son beweeg, hoekom is dit soms somer en soms winter? Teen die agtergrond van hierdie debatte in die destydse Alexandrië – met sy manjifieke ligtoring, geboue en gevorderde infrastruktuur – het daar spanning tussen Christene, Jode en Romeine ontstaan. |
Dit lei uiteindelik tot ’n bloedige stryd. Die biblioteek is bestorm en vernietig en die filosowe moes vir hulle lewe vlug, met net enkele perkamente wat gered kon word. Die rolprent kyk ook na die liefde van ’n slaaf vir sy eienares. En na die invloed wat hy op haar lewe gehad het. Agora – deur die bekende, pryswennende Mexikaanse regisseur Alejandro Amenabar, wat ook The sea inside gemaak het – stel hoë eise aan die sitvlak, want die rolprent is twee ure lank en verg intense konsentrasie. Hierdie is dus geen gemaklike springmielies-in-die-mond-fliek nie. Dit vereis ook dat jy jou geskiedenis vinnig moet leer ken en presies weet waar elke karakter in die prentjie pas. Maar Agora gaan ook oor godsdiensvryheid, oor idiote wat bedreig word deur logiese filosofieë, en oor chauviniste wat aan vroue geen regte of vryhede wou gun nie en hulle eerder uit die samelewing wou verban. As jy dus in die bui is vir uitdagende, filosofiese materiaal wat in ’n eksotiese ou wêreld afspeel en waar die soeklig op die mens se ontwikkeling en sy groteske (godsdiens) misdade val, behoort Agora jou breinselle behoorlik te prikkel. Die rolprent neem kykers na baie donker plekke en loop uit op ’n slot met ’n angel in die stert. Ten spyte van sy skokkende storie, is dit ’n knap rolprent. Dink egter mooi voor jy besluit om te gaan kyk. |