Voorblad
Voorblad | Gesin | Mense | Wie is ons | Keurkos | Resensies | Klein advertensies | Kuier saam | Huwelik

Klik op foto's vir groter weergawes!

 

 

Carike – steeds vol in die blom

Op 63 is Carike dalk al ’n meerjarige plantjie, maar sy staan steeds vol in die blom. Moontlik omdat sy oor die jare sulke ritse mooigoed staangemaak het – “Heidi”, “Wouter Kabouter”, “Hoeka-Toeka”, “Bye­boer­wa” en talle ander is teen dié tyd so deel van Afrikaanssprekendes se kollektiewe geheue soos biltong en basaarpoeding.

"Is dit daai vrou wat nooit oud word nie?” vra iemand vir fotograaf Johan Wilke toe hy noem dat hy Carike Keuzenkamp gaan afneem.

Met hierdie uitgawe van LIG is dit inderdaad ongeveer die 50ste keer dat die vrou met die blou, wawydwakker oë lesers nooi om ’n tydskrif te koop. Die uitgawe van die tydskrif Sarie in Desember 1990 met haar op die voorblad, was in die 60 jaar van hulle bestaan hulle beste verkoper ooit. En by een van haar weinige verhoogoptredes ’n paar jaar gelede, toe sy in die Palladium in Londen saam met Steve Hofmeyr jong Suid-Afrikaners gaan vermaak het, het hulle haar staande toegejuig voordat sy ’n enkele noot kon sing.

Oor die verloop van haar lewenspad en die suksesse wat sy behaal het, is niemand méér verbaas as Carike self nie. Sy was die jong joolkoningin wat in 1967 die ene onskuld haar kitaar opgetel het en met die liedjie “Timothy” in die Jamie Uys-fliek Die professor en die prikkelpop oornag bekend geword het. Daarna die 21-jarige bruid wat niks méér begeer het as om te trou en kinders te hê nie. Later die Kraaines-tannie wat liedjies soos seepborrels die lugruim bly instuur het, om tot diep in mense se hart te val. En nou die vrolike ouma na wie kleuters arms-in-die-lug aangehardloop kom wanneer hulle haar as Ghoempie se tannie herken.

Ons ontmoet mekaar by haar oudste dogter, Carla van der Merwe, se huis in Durbanville. Buite is dit bewolk met buie, maar binne, in Carike se geselskap, lekker mooiweer en warm.

Dit is haar onselfbewuste, oop manier van doen wat ’n mens vanaf die eerste oomblik tref. Dié Elisabeth Maria Magdalena Keuzenkamp wat sommer kortweg Carike geword het, ’n samevoeging van haar pa Carel en haar ma Rik se name. Ja, die perfeksionis in haar kan opgewerk raak as verkeersknope haar láát maak, of wanneer “dinge te veel word”. Maar swaar dra aan bekendheid of allerlei kwessies? Dít laat sy liefs aan ander oor.

Haar haarstyl moet nou ook maar bly soos die mense haar ken, sê sy. “Nie dat ek nié al iets anders probeer het nie, maar soms kry ek die indruk ek is na soveel jare die enigste konstante in mense se lewe!”

Lees verder in die September-uitgawe van LIG

© 2008 LIG - Tydskriftemaatskappy. Alle Regte Voorbehou.